| Legende van die Tandemuis |
|
Eeue lank word die legende van die Tandemuis van geslag tot geslag oor vertel. Hierdie fantasie bring nou nog groot plesier aan duisende klein kindertjies regoor die wêreld. Die Tandemuis is ‘n vriendelike, deftige, elegante, flukse en uiters kreatiewe klein muisie. Hy is toegewyd om elke melktand wat deur klein mense-kindertjies gewissel word, by hulle te gaan haal. Die Tandemuis is die hoof tandeversamelaar en –tandehandelaar! Kinders in baie wêrelddele glo getrou in die Tandemuis. Sodra hulle ‘n melktand wissel, sit hulle gelowig die tandjie in hul pantoffel voor die bed of onder hul kussing. Die Tandemuis kom dan, terwyl hulle slaap, baie suutjies om die tandjie te kom haal. Hy los dan vir hulle geld (of selfs ‘n klein geskenkie) in ruil vir die pragtige, blink wit tandjie! Het Jy Geweet? *Muise se tande hou nooit op om te groei nie! *Muise het van die sterkste tande wat aan die mens bekend is! Siende dat muise sulke sterk tande het, is dit voorwaar ‘n groot eer as die Tandemuis jou tand wil hê ! Hy gebruik dan al die tandjies om sy huisie en meubels mee te bou. Hy gebruik ook tandjies om mee handel te dryf (in plaas van geld, soos wat mense doen!) . . . . daarom het die Tandemuis so baie sterk, blink tandjies nodig! Hoe beter mense-kinders hulle tande versorg, hoe gelukkiger is die Tandemuis! |



